Patricia

Sy het in die kombuis ingeloop, haar gesig ‘n vaalgrys kleur, en oë wat verskrik van die een persoon na die ander gevlieg het. Die moegheid was oor haar hele wese geskryf. Hoe dan nou anders? Die 19-jarige kind, het meer as ‘n week terug haar land Malawi verlaat, om haar hier by haar nuwe man aan te sluit. Sy is egter ontvoer, saam met ‘n hele paar ander uitlandse vrouens, en ons moes ‘n losprys betaal om haar te kry. Vir ‘n week is sy heen en weer gery, sonder slaapplek, en sonder kos. Vir R1500. Genadiglik is sy nie verkrag nie.

Ons wag nou nog vir hulp van die polisie af. Carte Blanche het ook nie belang gestel om hierdie storie te ondersoek nie. Volgens wat ons kon uitvind, gebeur dit aanmekaar. Kastig breek die bus. Kastig is die taxi net betyds daar om maar die passasiers te laai. En so word die vrouens elke keer ontvoer.

Patricia was skaam. As sy met my MOES praat, was dit ‘n gesukkel om te hoor wat sy probeer sê agter haar mou, of kraag, of wat sy ook al kon kry om agter te skuil. Van huis skoonmaak het sy absoluut niks geweet nie. Alles was vir haar nuut. Dat skottelgoed in warm water gewas moet word, was vir haar ‘n aardigheid. ‘n Wasmasjien was ‘n vreemde ding wat sy van alle kante af bekyk het. Dikwels het ek op haar afgekom in die huis, stoflap oor die skouer, heeltemal verlore in hierdie nuwe wereld, met al die nuwe goed. Sy was gewoonlik uit die veld geslaan oor iets wat sy vir die eerste keer opgemerk het. Soos ‘n peutertjie wat als wil ondersoek, is als oopgemaak en bekyk. Die verwondering was altyd oor haar hele gesig. Dries se bekfluitjies is om, en om gedraai, blink gevryf, en terug gepak in die tassie.

Sy was lief vir sing. Sy het met soveel oorgawe gesing in die huis waar ons bly, dat ons kon sit en luister na haar, bo in die winkel. Haar stem was helder, en nootvas. Pragtig. Soveel potensiaal. Die taal kon ek nie verstaan nie, maar die klank het my hart geruk, elke keer. Daar was iets desperaat daarin, iets wat ek aanvanklik nie kon peil nie. Elke keer het dit my hartseer gemaak.

Gaandeweg het Patricia al hoe stiller geraak, en al hoe minder gesing. Soms het sy soos ‘n groot speld verdwyn. Ek kon nie verstaan waar sy heen gaan nie, tot ons haar eendag gesien sit het, in die middel van die perdekamp, op ‘n groot klip, met haar rug na die pad toe. So het sy vir die Magaliesberg gesit en kyk, doodstil, soos ‘n dassie. Ek kon nie help om haar jammer te kry nie. Ek kon sien die kind verlang huis toe. Sy soek haar eie mense, en haar eie land. Ek kon haar nie druk om vinniger en deegliker te werk nie; ek kon dit eenvoudig nie oor my hart kry, om die rustigheid en die vrede, uit haar uit te jaag, en haar deel te maak van ons rat-race nie. Ek kon nie. Daar was iets in haar wat ek gewens het, ek kon hê. ‘n Eenvoudige tevredenheid en rustigheid. Iets wat ons eintlik nie meer ken nie.

Dit was so warm en Patricia het elke dag ‘n baadjie aangehad. Verkieslik een met ‘n kappie. Dan kon sy in die kappie vir my wegkruip. Toe ons agterkom sy is swanger, was sy al baie ver. Sy het dit baie goed weg gesteek in die baadjies.

So is Patricia terug Malawi toe. Om haar baba te gaan kry in haar eie ma se huis. Om tussen haar eie mense haar kind groot te maak.

Ek wonder elke dag oor Patricia. Ek wonder of sy nou weer sing.

Advertisements

‘n gat in die hart

Toe sy op die stoel neersak, kon ek sien sy is gedaan. Nie fisies nie. Innerlik. Geestelik en emosioneel gedreineer. Leeg. Hoe dan anders? Daar is ‘n gat so groot soos die melkweg in haar hart en geen pollyfilla kan dit toemaak nie. Niks wat enige iemand sê kan dit beter maak nie. Niks wat enige iemand doen, kan die omstandighede enigsins verander nie. Dis ‘n pad wat sy alleen moet stap. ‘n Stywe opdraande wat elke dag van voor af begin. ‘n Pad deur ‘n dorre woestyn van emosies, sonder rusplek of koelte langs die pad.

Ouers is nie veronderstel om kinders te begrawe nie. Dis nie hoe dit moet wees nie. Alles daaromtrent is verkeerd. Kinders word groot, kry vlerkies en vlieg. Hulle sien hulle ouers oud word. Hulle sien hulle ouers agteruitgaan. Hulle weet dat hulle eendag hulle ouers nie meer by hulle gaan hê nie. ‘n Hele leeftyd lank word kinders voorberei daarop, dat hulle eendag langs ‘n graf sal gaan staan, en hulle ouers ter ruste lê. Maar ouers? Ouers word nie voorberei daarop om ‘n kind aan die dood af te staan nie. Dit moenie gebeur nie. Dit kom onverwags. Onvoorsien. Onwelkom. So onwelkom. Alles wankel en niks maak meer sin nie. Gebede word hortend en moeilik gemompel en uiteindelik bly sy liewer stil. Haar Bybel het skielik vir haar ‘n vreemde boek geword – dit maak nie meer sin nie. Die kerk is skielik ‘n herinnering van die dag wat die drie kiste voor in die kerk gestaan het – dis al wat sy sien elke keer as sy daar inloop. Kan mens haar kwalik neem? Kan mens haar werklik kwalik neem?

Hoe kan iemand vir haar vertel om aan te beweeg? Hoe kan iemand haar aanraai om die kinders se fotos eerder van die muur af te verwyder sodat sy kan vergeet? Hoe kan iemand haar aanraai om eerder nie die antidepressante te drink nie? Hoe kan enige iemand, want nog nie self langs die graf van ‘n kind gestaan het nie, haar aanmatig om raad uit te deel? Hoe gevoelloos en onnosel kan mens wees? Of is dit eerder arrogant?

Ons treur nie soos die die wat geen hoop nie, dis waar. Maar ons treur wel. En ‘n ma wat ‘n kind verloor het, sal aanhou treur totdat sy self die dag, die lewe verlaat. Dis hoe dit is.

As jy nog nie self langs ‘n kind se graf gestaan het nie, gaan op jou knieë en sê dankie. En dan tree jy daadwerklik in vir die mamma wat elke dag deur strompel onder ‘n hartseer wat haar aarde toe druk. Moenie raad uitdeel nie, deel liefde uit. Moenie probeer verstaan nie, wees net daar vir haar. Luister as sy wil praat. Huil saam met haar  haar as sy wil huil. Los haar uit as sy alleen in haar stoel wil gaan sit en met niemand wil praat nie. Dra haar in gebed, want vir nou, kan sy nie self bid nie. Moenie vir haar preek nie, dis nie jou plek nie. Bid vir haar. Strek uit jou arms en hou haar staande.

Of die fotos op die mure hang of nie, die gesigte leef in haar hart. En in haar hart is ‘n groot, groot gat.

Die Ruitevrou

Ek het ‘Die Ruitevrou’ deur Maretha Maartens baie jare terug gelees. Ek het dit gelees omdat ek ‘n Ruitevrou was. Sonder dat enige iemand dit geweet het.

Hy was my tweede man. ‘n Baie aangename mens. Totdat die mense weg was en die voordeur toe was. Dan het hy verander in ‘n buierige, onvoorspelbare man waarvoor ek baie bang was. Die eerste keer toe hy my aangerand het, was ek geskok. Vir dae lank stomgeslaan. Hoe kon dit met my gebeur? Dis iets wat met ander mense gebeur! Ek het uiteindelik die moed bymekaar geskraap en vir hom vertel dat dit nie weer moes gebeur nie. Ek het belowe om met die tweede keer, my goed te vat en te loop. Ek het eenvoudig nie die persoonlikheid om vir jare en jare iemand se slaansak te wees nie. Met nommer drie sou ek hom waarskynlik dood skiet – dit sou beter wees om met nommer twee, te loop. Hy het my geglo.

Vir elf jaar het hy hom gedra. Hy het kwaad geword en gery. Tot hy oor sy woede was. Elke keer. Tot daardie dag wat hy sy humeur verloor het. Dit was nommer twee. Toe nommer twee oor was, en ek myself van die vloer af kon optel, het ek my handsak gevat, in my kar geklim en gery. Ek het terug gegaan as ek geweet het hy werk. So het ek my goed stuk-stuk met behulp van die bediende daar uitgedra. Ek het nooit terug gegaan nie. Nooit terug gekyk nie. Ek het hom nooit gemis nie. Daar was net niks. Daar was nie eens haat nie. Dit was soos ‘n stuk hondebollie wat in die tuin gelê het; ek het oor dit geklim en verder geloop.

Vir lank het ek nagmerries gekry. Hy het belowe hy sou my dood maak. Baie nagte het ek nat gesweet en verskrik wakker geword.

Maar toe kom my boom en gooi sy enorme takke van omgee en liefde, in salige skaduwee oor my, en skielik het ek veilig gevoel. Die nagmerries het opgehou.

Tot laasnag. Laasnag was hy skielik terug in my drome. Hy het my gejaag en my aangerand. Keer op keer op keer. Ek het so geveg om my lewe laas nag. Iewers in die nag het hy my gejaag met ‘n groot voertuig en ek het die voertuig se wiele stukkend geskiet met my vuurwapen. In die hardloop het ek herlaai – hy was agter my. Iewers deur die geveg het ek dit reg gekry om op my voete te kom terwyl hy nog op die vloer was. Ek het my vuurwapen getrek en die magasyn leeg gemaak op hom.

Tot vanoggend, het ek dikwels gewonder of ek werklik die moed sou hê om die sneller te trek as daar ‘n mens voor my sou staan – ‘n mens wat my lewe bedreig. Ek het laasnag my antwoord gekry. Ek sal. Ek kan. Dis tergelykertyd ‘n skrikwekkende maar tog bevrydende gedagte.

Hoekom vertel ek dit? Iewers is daar dalk ‘n Ruitevrou wat wonder of sy sal oorleef as sy sou loop. Vir haar wil ek sê: “Gaan! Loop! Jy sal dit maak! Jy is sterker as wat jy dink!”

As jy weet wie sy is, stuur vir haar die boodskap van my af.

My boom het vanoggend toe ek ontsteld en verskrik wakker geword het, sy arms om my gevou en ek het geweet – niemand, maar niemand, sal ooit weer aan my kan slaan nie. My boom sal dit nie toelaat nie. Dank die Here vir ‘n groot boom wat oor die Ruitevrou se vrees gegroei het.

 

Morele Murasies

Ek moet minder muurblommetjie speel. Ek is die een wat met enige sosiale geleentheid iewers in ‘n hoekie gaan sit en vir die mense kyk. Dis ‘n aktiwiteit wat ek altyd vreeslik geniet het. Deesdae krap dit my egter om. Ek sien goed wat ek eerder nie moes gesien het nie. Ek hoor goed wat ek eerder nie moes gehoor het nie. En dan raak ek vir dae depressief oor die morele verval wat deesdae oral opsigtelik is. Dis nie eens ‘n verval soos ‘n huis met ‘n dak wat lek nie. Nee. Dis veel erger. Ek dink in ons land het net morele murasies oorgebly.

So sit ek toe nou laas week by ‘n kombuistee. So terloops, kombuistees is uit. Bachelorettes is in. Voorheen het meisies geleer huis hou soos hulle ma’s. Deesdae leer hulle drink soos hulle pa’s. Voorheen het ons op kombuistees gepraat oor resepte. Op bachelorettes word grappe gemaak oor mans se penis lengtes. Op hierdie kombuistee waar ek was, het die voornemende bruid raad gevra van die ou getroudes. Ek was geskok. Stomgeslaan. Ek het al hoe dieper in my hoekie ingekruip en gewonder hoe lank die malligheid nog gaan aangaan. Die arme bedeesde bruid het onder andere, die volgende raad gekry:

  • Gaan slaap kwaad – dit gee jou tyd om te dink;
  • Moenie vir jou man vertel waaroor jy en jou vriendinne praat nie – dit het niks met hom uit te waai nie;
  • Moet nooit vir jou man sê wat jy werklik vir die skoene / handsak / klere / wol / wat ook al, betaal het nie. Lieg daaroor of steek dit vir hom weg;
  • Moet nooit dat jou man jou werklik leer ken nie – bly misterieus en laat hom wonder.

Ek moet seker dankbaar wees ek moes nie na raad luister oor hoe om die penis lengte te verbeter nie. Dan sou ek uitgeloop het.

Die mans het nie veel beter gevaar nie. Die voornemende bruidegom, moes van ‘n ouer man af hoor dat, “hierdie nou nie die enigste vrou is wat jy vir die res van jou lewe gaan spyker nie”. Ek glo nie enige iemand sal my blameer dat ek nou GEEN respek vir die betrokke man oor het nie. Werklik.

Mooi rokke op troues is uit. Koekie-pelmets is in. Party meisies het die lywe daarvoor, ander het werklik nie. Maar selfs die wat soos perdebytjies lyk, lyk ook net ‘redelik’ goed, totdat die dans begin. Dan verander die elegante meisie in ‘n arm swaaiende ding wat drie passies dans en dan eers haar koekie-pelmet moet afskuif om te voorkom dat koekie nou heeltemal sigbaar is. Ek kan nie dink dat dit gemaklik is nie. En die dans lyk beslis nie lekker nie. Wat het geword van mooi rokke of pakkies, of selfs broek-pakkies? Waar kom die gebrek aan styl vandaan? Was dit nog altyd daar? Het ek dit net mis gekyk?

En dan begin die drinkery. Oe hene. Die bytjies met die koekie-pelmets is voor in die koor. Drink uit die bottels uit. Vry die mans dat die spoeg spat – sommer so daar tussen almal. Dronk. Heeltemal flenters gedrink.

Nee gonna mense. Ons sal hierdie morele verval moet stop, voordat daar van ons nageslag niks oorbly nie. Ons ouer mense moet ernstig begin dink oor ons rol as mentors. Jong mense kyk na ons vir ‘n voorbeeld, raad en leiding. Ek skaam my vir die voorbeeld, raad en leiding wat hierdie jong mense gekry het. Ek kry hulle so jammer. Gelukkig is hulle oopkop en besef dis snert waarna hulle eerder nie moet luister nie. Maar wat van die mense wat die raad uitgedeel het? Wat dink hulle van hulleself? Waar is die selftrots? Waar is die selfwaarde? Is drank en seks nou al wat van ons eens trotse volk oorgebly het?

Besef ons werklik hoe groot invloed ons het op die jong mense? Besef ons werklik hoe belangrik ons mentorskap is? Besef ons werklik, dat ons ander mense se lewens beinvloed, hetsy goed of sleg? Dis ‘n groot verantwoordelikheid en ek dink daar is baie mense wat ons jeug toetentaal faal. Hoe hartseer.

Kies vandag om ‘n goeie mentor te wees. Gee goeie raad. Gee Bybelse raad. Stel ‘n goeie voorbeeld. Koop tog ‘n pakkie, nie ‘n koekie-pelmet nie. Moenie ‘n nuwe huwelik probeer vernietig nog voordat dit ‘n kans gehad het nie.

En ag so laaste sinnetjie – kan die ouer vrouens tog maar begin om net so bietjie beter aan te trek? Die kompetisie tussen die ou koekie-pelmet draers, en die jong koekie-pelmet draers, was werklik lagwekkend. En kommerwekkend.

verlange is vir altyd

Dis stil in die kar. Die wiele rol fluks oor die kronkelpad tussen die berge deur. Ons gaan huis toe. Stilte was nog nooit ‘n probleem tussen ons nie. Soms praat ons. Soms lag ons. Soms huil ons. Sy sit en kyk by die venster uit. Maak so nou en dan ‘n aanmerking oor die plantegroei hier teen die koppies. Sy was nog altyd lief vir tuinmaak en die aalwyne wat hier so wild groei het dadelik haar aandag getrek. Vandag is dit egter iets anders wat haar gedagtes gevange hou.

“Hierdie jaar, sou my oudste kind….” Sy maak nie haar sin klaar nie, maar gee so aansit-hoesie. Sy doen dit altyd as haar emosies die oorhand kry. Met die hoesie dwing sy haar trane terug waar hulle vandaan kom en kry sy weer die bewing in haar stem onder beheer. “… 61 jaar oud gewees het.” Weer die aansit-hoesie.

My hande begin so liggies bewe en ek hou die stuurwiel so bietjie stywer vas. Dit voel of iemand my bors oopgeruk het, my hart uitgepluk het en dit nou rondswaai. My asemhaling is skielik hortend, ek sluk self swaar aan die emosie. Ek kan nie nou huil nie, dan gaan ek nie kan bestuur nie. Nie nou nie.

61 jaar later en sy treur steeds. 61 jaar van verlang na die lyfie wat sy vir 8 maande kon koester. 61 jaar wat sy dra aan die verskriklike las van sukkel om te vergewe.

Die familie was stoere Afrikaanse boere. Die man wat sy mee getrou het, ‘n rou Engelsman. Die familie het swaar gesluk daaraan. Die Natte en die Sappe het nie van mekaar gehou nie. Hulle was op die plaas om te kuier met die 8-maande oue seuntjie, toe hy skielik siek geword het. Dit was in die tyd wat polio soos ‘n monster deur die land gestorm het en gesoek het wie hy kon vat. Polio het sy tande in die baba se lyfie ingeslaan. Sonder genade. Die kind moes hospitaal toe. Ouboet was die enigste een wat ‘n kar gehad het. Ouboet het geweier. Hy sou nie die Engelsman se kind in sy kar hospitaal toe vat nie. Netnou kom die kiem in sy kar in. Die monster het gewen. Die doodsengel het die 8-maande oue baba uit haar arms kom ruk.

Ek onthou die grafsteentjie op die plaas. Die plaas is lankal uit die familie uit. Weg. Wonder of die grafsteentjie ooit nog staan. Vir oom ouboet onthou ek nie regtig nie. Ons het nie by hulle gekuier nie. Ek het hom slegs een keer in my hele lewe gesien, by ‘n begrafnis van ‘n ander broer. Ek het die vreemde oom nie geken nie. Toe my ma sien die oom praat met my, het sy my aan die skouers gevat, my omgedraai en met my weg gestap. Ek onthou die paar woorde van die onderonsie asof dit gister gebeur het. “Jou kind steek jou in die skande; sy ken my nie eens nie”. “Ek wil ook nie hê sy moet jou ken nie”.

61 jaar later. Drie kinders later. Die gat in haar hart word net groter. In haar kas is ‘n ou nugget skoenpolitoerblik met ‘n paar leer sandaaltjies in, en ‘n rooi en wit geruite baadjie. Syne. Haar oudste kind s’n. Sy is amper drie-en-tagtig. Die verstand is nog vlymskerp. En die verlange ook. Dit sny nou en dan deur haar hart en die bloed loop in trane teen haar wange af. Die aansit-hoesie het nie gewerk nie.